+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa

Waar kom ons skoollied vandaan?

Elke Maandagoggend, wanneer ons saam in die saal vergader vir week-opening, weerklink ons skoollied deur die skool — ’n lied wat die hart van ons skoolgemeenskap verwoord. Die hoërskool sing dit ook met trots tydens die vlaghysing op Vrydae. Dit is inderdaad ’n besonderse mooi skoollied wat diep in ons geskiedenis gewortel is. Maar waar kom dit vandaan?

Om die ontstaan van ons skoollied te verstaan, moet ons eers weet waar ons skool self vandaan kom. Die Gereformeerde Skool Dirk Postma is ’n onafhanklike skool in die hartjie van die Moot (Pretoria), gestig deur ouers uit die plaaslike gemeenskap. Hulle het ’n droom gekoester om ’n reformatoriese skool te stig waar kinders Bybelse onderrig en opvoeding kon ontvang by onderwysers wat hul roeping met oorgawe uitleef. Hierdie droom het in 1987 werklikheid geword — met 42 leerlinge en drie onderwysers wat die eerste, klein maar getroue tree gegee het op die terrein van die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar.

Teen 1995 het die personeel die behoefte uitgespreek om ’n eie skoollied te hê wat tydens openings en spesiale geleenthede gesing kon word. Na goedkeuring van die skoolbestuur is met die projek voortgegaan — ’n projek wat uiteindelik iets baie kosbaars aan ons skoolgemeenskap geskenk het.

Die woorde van die skoollied is geskryf deur Hanneke en Dirk Das, destyds ouers van die skool, met waardevolle bydraes van mev. Geeske le Grand (bekende Nederlandse digteres, onder haar skrywersnaam Geeske Wiersma, en lidmaat van GK Die Kandelaar) en dr. Gerhard-Mark van der Waal (historikus, en ook lidmaat van GK Die Kandelaar, later na Nederland geëmigreer).

Die Das-egpaar is vandag nog steeds by ons skool betrokke — nou as trotse ouma en oupa van leerders. Die musiek is gekomponeer deur prof. Henk Temmingh, wat die woorde getoonset het op ’n variasie van die melodie van Psalm 1 — die Psalm waarop sowel ons skoollied as skoolwapen gegrond is.

En só sing ons elke week nie net ’n gewone skoollied nie, maar ’n lied wat getuig van ons geskiedenis, geloof en roeping.

Inhoud en betekenis

Die beeld van die boom wat by waterstrome geplant is (Psalm 1) loop soos ’n goue draad deur die skoollied. Soos wat die boom groei en vrug dra omdat sy wortels diep geplant is in God se Woord, so wil ons hê moet die kinders groei; in kennis, geloof en gehoorsaamheid. Elke keer as ons die skoollied sing, herinner dit ons daaraan dat ons identiteit en ons roeping in Christus gewortel is, en dat alle vrug wat ons dra, tot sy eer alleen is.

Vers een vertel ons meer van die skool se ligging en naam.

1. Ons g’reformeerde skool is deur Gods hand
hier in die wye Mootgebied geplant.
Die Heer het in sy trou
die Dirk Postmaskool gebou.

Vers twee handel oor die doel van die onderrig en die liefde en trou van die Here wat ons daarin mag ervaar.

2. Die onderwysers leer ons in die klas
om God se Woord in alles toe te pas.
Dank Heer vir liefde-en trou
wat ons elke dag omvou.

Vers drie handel oor die inhoud van die skoolwapen en eindig met ‘n bede om vrug te mag dra.

3. Soos boompies by die waterstroom geplant
so groei ons onder God se vaste hand.
Ons wil U need’rig vra:
Help U ons om vrug te dra.

Die refrein bevat die tema van die lied (skoolwapen en leuse). Die kinders vra biddend dat hulle deur die Woord (Waterstroom) gevoed mag word, en dat hulle sterk en vol moed mag wees (soos die Here aan Josua opgedra het). By die laaste refrein word die presiese woorde van die skoolleuse geneem na die gewone refrein en dit word met lang klem-note gesing. Die kinders moet dit ook harder sing.

Refrein:
O, laat die waterstroom ons voed,
sodat ons sterk is en vol moed.

Laaste refrein:
Wees sterk en vol moed!

Ons g’reformeerde skool is deur Gods hand
hier in die wye Mootgebied geplant.
Die Heer het in sy trou
die Dirk Postmaskool gebou.
 
Refrein:
O, laat die Waterstroom ons voed
sodat ons sterk is en vol moed.
 
Die onderwysers leer ons in die klas
om God se woord in alles toe te pas.
Dank Heer vir liefde en trou
wat ons elke dag omvou
 
Refrein:
O, laat die Waterstroom ons voed
sodat ons sterk is en vol moed.
 
Soos boompies by die waterstroom geplant
so groei ons onder God se vaste hand.
Ons wil u need’rig vra:
Help U ons om vrug te dra.
 
Refrein:
O, laat die Waterstroom ons voed
sodat ons sterk is en vol moed.
WEES STERK EN VOL MOED!

+27 12 332 3222 | [email protected] | Cunninghamlaan 1182, Waverley, Pretoria, South Africa