Afrikaans is nie net ons taal nie, dit is die klank van tuiskoms, die medium van leer en groei, en ‘n bousteen van identiteit. Dit is die taal waarin jy berispe word, maar ook die taal waarin jy jou wêreld ontdek. Ter viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie 2025, reflekteer die Gereformeerde Skool Dirk Postma (GSDP) oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en die rol wat Afrikaans in leer en ontwikkeling speel.
Taal is van die begin die kommunikasiemedium waaraan selfs die skepping onderworpe was. Dink maar net aan die herhalende woorde in Genesis “En God het gesê…”Verder het die Here die verwarring van taal gebruik om by die toring van Babel die mens te straf, Hy het die Heilige Gees uitgestort en elkeen kon in sy moedertaal verstaan. Die sendingopdrag was aan alle nasies, waarskynlik in hul eie taal. Markus 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
God gee aan elke nasie en volk sy eie taal waarmee hulle Hom moet dien. Moedertaal is dus ‘n gawe van die Here. Navorsing bevestig ook keer op keer dat moedertaalonderrig van kritieke belang is vir ‘n kind se kognitiewe ontwikkeling. Unesco-verslae uit 1953, 1968 en 1972 beveel aan dat kinders vanaf hul eerste skooljare in hul moedertaal onderrig moet word en dat dit so lank as moontlik voortgesit moet word (Afrikaans, 2003). Wanneer kinders in hul moedertaal leer, is die oorgang van huis na skool makliker, en hulle kan hul omgewing beter verstaan en verwerk.
Moedertaalonderrig help leerders om hul taalvaardighede en kognitiewe vermoëns te ontwikkel. Dit bevorder die aanleer van leesvaardighede en verbeter probleemoplossingsvaardighede. Volgens Louwrens (2003:2-3) vind denke plaas deur middel van taal, en daarom is ‘n stewige grondslag in die moedertaal noodsaaklik vir akademiese ontwikkeling.
Die voordele van moedertaalonderrig strek egter verder as akademiese prestasie. Dit het ook belangrike geestelike, sielkundige, sosiale en kulturele voordele. Dit gee kinders ‘n sterk gevoel van identiteit en bevorder kulturele bewaring. Moedertaalonderrig dra ook by tot die voortbestaan en ontwikkeling van Afrikaans as ‘n taal (Bornman et al., 2014:600-601).
By die Gereformeerde Skool Dirk Postma word moedertaalonderrig in Afrikaans van Graad RRRR tot Graad 12 aangebied. Hier kry leerders die geleentheid om in hul moedertaal te leer en te ontwikkel. Dit stel hulle in staat om uiteindelik die Bybel in hul moedertaal te kan lees, in hul moedertaal te kan bid, te kan sing, debatteer en selfs om tweede en derde tale makliker aan te leer sodra hulle ‘n sterk grondslag in Afrikaans het.
Moedertaalonderrig is meer as net ‘n praktyk by GSDP, dit is ‘n passie met ‘n begronding. Om die leerders volkome toe te rus hou ook in dat hul toegerus is om hul moedertaal passievol te beheers. GSDP vier graag Internasionale Moedertaaldag!
Bronne:
Afrikaans – meer as net praat. 2003. Frontnuus, p.16.
Louwrens, L. 2003. Moedertaalonderrig as moderator by die verband tussen intelligensiekwosiënt en akademiese prestasie. MA-verhandeling. Universiteit van die Vrystaat.
Bornman, E., Pauw, J.K. & Potgieter, P. 2014. Houdings en opinies oor moedertaalonderrig en die keuse van ’n universiteit: Afrikaanssprekende studente aan Unisa. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4):596-609.
Bybel 1953 vertaling https://www.bible.com/af/bible/5/MRK.16.15





