Om seker te maak dat jy nie ons belangrike opdaterings misloop nie en dat beelde korrek vertoon, voeg asseblief ons e-posadres [email protected] by jou veilige senderlys of witslys in jou e-posinstellings. Klik hier om hierdie nuusbrief aanlyn te lees. Laai die PDF-weergawe hier af.

Geagte leser

Met groot dankbaarheid en opgewondenheid deel ons hierdie kwartaal se nuusbrief met u. Dit is altyd ’n vreugde om te sien hoe ons kinders groei – nie net in akademie en sport nie, maar ook in karakter en geloof. In hierdie uitgawe vier ons nie net prestasies nie, maar ook die klein oomblikke van groei en samehorigheid wat ons skoolgemeenskap so spesiaal maak.

Ons begin met ’n insiggewende artikel oor die belangrikheid van ’n Gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing. In ’n wêreld vol onsekerheid en verandering is dit ’n groot voorreg om ons kinders te help om hulle lewens te bou op die vaste fondament van God se Woord. Hierdie artikel herinner ons daaraan dat elke faset van ons lewens – akademie, sport, kultuur en sosiale interaksie – gesien word deur die lens van die Woord van God.

Vanuit die Hoërskoolafdeling kry ons ’n blik op die skooljaar se hoogtepunte, insluitend die eerste ervarings van die groentjies asook die opwindende sportbyeenkomste. Die leerlinge se stemme kom duidelik na vore, en dit is wonderlik om hulle perspektiewe en ervarings te lees.
Die Laerskool-afdeling gee ons ’n kykie in die lewens van ons jonger leerlinge – van die opwinding van die eerste dag in Graad 1 tot die prestasies op die atletiekveld en die uitdagings van redenaars en studiekursusse. Geniet die leerlinge se eie beriggewing oor hul ervarings.

Vanaf die kleuterskool word ons herinner aan die belangrikheid van speel as ’n leermetode. Dit is deur kreatiewe spel dat ons kinders nie net vaardighede ontwikkel nie, maar ook verhoudings bou en leer hoe om die wêreld waarbinne hul moet leef, te benader.

Ons wil ook ons matrieks van 2024 gelukwens met hul uitstekende uitslae! Julle harde werk en toewyding het vrugte afgewerp, en ons weet dat julle die toekoms met geloof en moed tegemoet sal gaan.

Mag hierdie nuusbrief ’n herinnering wees aan hoe geseënd ons as ’n skoolgemeenskap is. Mag ons voortgaan om ons kinders te lei, te vorm en toe te rus met die wete dat hulle deur Christus beklee is om in Sy lig te wandel.

Vriendelike groete
Saskia Meijer
Skoolhoof

Algemene en Christelike wêreldbeskouing
Mev Lynni Enslin is die departementshoof graad 8 en 9 by die hoërskool.

Wat is ‘n wêreldbeskouing?
Hoe sien ons die lewe? Wat is dit wat ons rigting bepaal? Hoe maak ons sin / probeer ons die wêreld en lewe verklaar? ‘n Wêreldbeskouing is dit wat ons gebruik om sin te maak van die wêreld. ‘n Mens se wêreldbeskouing word bepaal uit dit wat hy dink, doen en sê; dit waarvoor hy lief is, en die manier hoe hy keuses maak.  Basies kom dit op die volgende neer: wie is ons, waar kom ons vandaan en waarheen is ons op pad?

Wat rig / vorm ‘n mens se wêreldbeskouing?
Baie mense wil weet wat is die doel en sin van die lewe.  Mense wil ‘n raamwerk hê van dinge waarin hul glo, wat hul oortuigings is en wat hul help om die groter prentjie van die lewe raak te sien. Daar is baie dinge wat bydra tot ‘n mens se wêreldbeskouing: jou familie, ervarings, ekonomiese agtergrond, onderwys (opvoeding), kultuur ens. Maar wat is die kern hiervan? Wêreldbeskouing is inherent godsdienstig. Alle mense, selfs ateïste wat die bestaan van God of ‘n goddelike wese ontken, hou vas aan iets, of het ‘n groter doel in die lewe. Elke persoon se lewe sentreer rondom iets.

Huissport 2025
Henro v.d. Linde

“Dames en here, hierdie is die 100 m van die o/19 seuns! Maak gereed vir dié wedloop van die hele dag,” klink dit deur die luidsprekers. “Ja, dames en here, hierdie is nie kinderspeletjies nie, dís hoe mens hardloop.”

So was dit ook by die res van die atletiek. By Hoërskool Oos-Moot sit die Arende en Valke in ’n tweegeveg. Aan die ander kant van die pawiljoen is die Njalas, Koedoes en Gemsbokke besig om kragte te meet. Hoogspring, gewigstoot, 1500 m: Gee nie om wat die item is nie, alles word ernstig opgeneem.

Maar tog sal niks en niemand die vriendelike atmosfeer kan wen nie. Die heersende geselligheid en sosiale interaksie was nie iets om te mis nie. Ouers en grootouers sit pligsgetrou op die paweljoen en moedig hulle (klein)kinders aan. Die bejaarde-ete by die ouetehuis moet maar wag, daar is belangriker dinge.

Barend die Arend word soos ’n celebrity hanteer, almal wil ’n foto en ’n high five hê. Klein kinders, groot kinders én volwassenes wil saam met hom vir ’n foto poseer.

Kosstalletjies met talle eet- en drinkgoed is weer op hulle pos. Pannekoek, burgers, twisters, lekkergoed, koffie ... wat meer wil jy hê? Vrywilligers bied wonderlike dienste aan om seker te maak dat die honger mae gevoed word.

Die hoërskool en laerskool wat atletiek tegelykertyd hou, is nie ’n grap nie, maar glo my, niks sal die Dirk Postma onderwysers onderkry nie! Almal is op hulle pos. (Nommer een is natuurlik om te kyk hoe jou klasgroep hardloop!) Hulle hande staan nie stil nie. Sonder hulle sou ons nooit so ’n wonderlike atletiek gehad het nie!

Die groot opwinding vir Pappa en Mamma bereik ’n hoogtepunt tydens die 40 en 60 m wedlope. Die ouers mag agter die stoele gaan staan en hulle kind aanmoedig. Sommige mammas het egter ’n groter voorreg gehad. Pietie het geval, maar Mamma het – soos gewoonlik – tot die redding gekom en saam met Pietie gehardloop. Hoe stresvol moes dit nie gewees het nie!

Dan kom die groot opwinding: Medaljes! Elke kind met ’n 1ste, 2de of 3de plek mag sy/haar medalje by Juffrou Saskia gaan haal. “Mamma, kyk my medalje!” en “Pappa, kyk, ek het eerste plek! Dit staan hier op my medalje!” was nie ongewoon om te hoor nie. Nou kon die kinders by Oupa en Ouma gaan spog oor hulle medalje en sommer ’n drukkie of twee bykry.

Ongelukkig kom alle goeie dinge tot ’n einde. “Baie dankie vir almal wat gekom het, ons bid julle ’n veilige reis huis toe,” spreek die afkondiger sy laaste woord. Om 17:00 was alles weer gebêre en opgeruim en kon kind, ouer en onderwyser huis toe gaan en hulle welverdiende rus geniet.

Maragon-ateletiekdag was heerlik
Jeanne le Roux

Die busrit Maragon toe was lekker. Daar was musiek en ons kon finally, na jare se wag, heel agter sit. Die atmosfeer was vrolik, maar almal was bietjie gespanne.

Daar was baie mense by die atletiekbyeenkoms. Daar was baie gees en almal was baie opgewonde in die hitte. Die program het agter geraak omdat daar so baie mense aan ‘n item deel geneem het.

Daar was 5 ander skole wat se atlete daarna gestreef het om goed te prestreer. Die Dirk Postma leerders was in skok toe hulle hul kompetisie in aksie sien, maar dit het hulle net gemotiveer om hul bes te gee.

Ons skool se mascot “Barend die Arend” was n groot sukses en hy het die leerders aangemoedig om die dag te geniet en hy het opgewondenheid in hulle opgewek.
Nadat die dag goed verloop het, was al die kinders uitgeput en reg om die pad huis toe aan te pak. Op die busrit terug was almal tevrede met hoe die dag uitgedraai het en met hoe hul gedoen het in die items waaraan hul deelgeneem het.

Die groentjiekonsert was suksesvol

Die nuwe graad 8’s was baie oulik. Hulle het goed saamgewerk en hulle kant gebring. Ons het omtrent 2 weke gehad om die hele groentjiekonsert voor te berei. Ons almal ( graad 12’s en graad 8’s) het elke dag baie hard gewerk om  die groentjiekonsert is sukses te maak. Die aand van die groentjiekonsert het almal gestres, maar uiteindelik was dit ‘n groot sukses. Ons het baie goeie terugvoer en kommentaar gehoor en baie mense het baie daarvan gehou.

Die Groentjiekonsert is gehou by NG Kerk Waverley-Oos. Daar was omtrent 250 mense  Die kinders het met hul laaste dans hul Dirk Postma-skoolklere aangetrek. Hulle het so mooi gelyk in hul volwaardige Dirkie-klere.

Bakstene na Huis
Eben v.d. Bout en Marinda Boersema

Op 13 Januarie 2025 het ’n groep bang bakstene by die skool ingestap. Dit was tyd vir die oriënteringskamp!

Die spanning is gebreek met ’n ysbreker. Onder ’n markiestent (a.g.v. die reën) is die groentjiereëls aan hulle verduidelik. Oudisies vir die groentjiekonsert is gedoen en die groentjieliedjie is geleer. Daardie aand het die bakstene die skoolgebou deur middel van ’n skattejag leer ken. Moeg van die dag se aktiwiteite, het die matrieks en hul bakstene in die klaskamers geslaap. Douvoordag is die groentjies uit hul beddens gejaag vir “bootcamp”. Met die aanhoudende reën, waarvoor ons baie dankbaar is, het ons planne bietjie verander en daarom het ons ’n vasvra gehou en konsert geoefen. Daarna het almal opgeruim en is almal huis toe.

Pragtig uitgevat in hul binnestebuite skoolklere, het die bakstene die skoolgrond vir ’n tweede maal betree. Tydens pouses het die matrieks ’n speletjie vir die graad 8’s uitgedink. Daarna moes die groentjies hul matrieks se handtekeninge versamel. Om die matrieks se handtekening te kry, moet die graad 8’s eers ’n opdrag uitvoer. In reaksie op die uitroep “lê stene” moes die bakstene op die grond gaan lê en wieg en hardop “doef-doef” skree.

In die middae na skool is die dansies en tonele vir die konsert geoefen.

Die dag waarvoor die groentjies baie lank voorberei het, het aangebreek: Die dag van die groentjiekonsert! Steenfanus, die hoofkarakter, wou êrens behoort en het op reis gegaan opsoek na die wensfontein om sy wens te bewaarheid. Oppad het hy vriende, Bouer Bosch en Granita, gemaak en so het sy wens waar geword. Die konsert was ’n reuse sukses en die saal was stampvol toeskouers. Na afloop van die konsert het elke graad 8 ’n boekmerk van hul matriek, met ’n mooi teksvers en ’n bemoedigende boodskap, ontvang.

Die daaropvolgende Maandag na skool is die graad 8’s formeel by GSDP deur die klokseremonie ingehuldig. Die bakstene is nou volwaardig deel van die huis.

Fluit-fluit my storie is uit, of soos die baksteen sal sê: Kap-kap die huis is klaar.

My eerste dag in gr.1
Willem Buys

ICO-atletiek
Gary van Dyk

Graad 4 -studiekursus
Lorien Smith Graad 4

Hoe leer ‘n mens. Ek weet meestal van die kinders wonder hoe studeer mens nou eintlik. Wel, dis baie maklik.

Op Dinsdag, 25 Februarie 2025 was al die graad 4’s opgewonde. In juf. Mart-Mari se klas het tannie Annelieke Visser ons geleer. Sy het deur ‘n Power Point gegaan en ons mooi verduidelik.

In my kwartaaltoets het ek baie goed gedoen. Die boekie wat ons gekry het, is Studeer Sonder Sukkel. ‘n Wenk wat die tannie gegee het, was ‘n dinkmuur. Met ‘n dinkmuur kan jy jou doelwitte vir elke kwartaal neerskryf, sodat jy volgende keer dit kan verbeter.

Daar is baie soorte mense wat jy kry; ouditiewe leerder, visuele leerder en ‘n kinestetiese leerder. ‘n Ouditiewe leerder onthou beter as hy goed hoor en luister graag na musiek. ‘n Visuele leerder onthou beter as hy/sy sien en hulle leer met prente en kaarte. ‘n Kinestetiese leerder verkies aksie en beweging om te leer en hulle leer deur te doen. Na die studiekursus het ek baie meer verstaan hoe studeer werk.

Spel as onderrigmetode in die kleuterskool
Elske Pretorius

By Dirkieland is dit vir ons belangrik om die maats te onderrig in die weë van die Here. Die gesin en die skool en die kerk werk in elke fase van hierdie skool saam om die kinders aan ons toevertrou, te versorg, op te voed en toe te rus vir hulle lewenstaak. Hierdie vorming begin in die gesin, reeds voor geboorte en word onder andere ook in die skool voortgesit. In die kleuterskool is goed toegeruste onderwysers wat die behoeftes van die kleuter verstaan. Deur ouderdomsgepaste aktiwiteite en roetines word hulle onderrig, gekoester en versorg.

Dit is hier, waar kleuters in ooreenstemming met wat in die gesin gedoen word, liefde in oorvloed ontvang en ervaar, wonderlike vriendskapsbande bou en sosialiseer, waar elkeen leer dat hulle uniek en spesiaal is en waar elkeen speel-speel leer. Die norme en waardes vanuit die Skrif is baie belangrik en dit vloei deur al die leerareas asook die interaksie met mekaar.

Ryke seëninge
Saskia Meijer

Vir die afgelope 23 jaar beleef Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma die Here se besondere seën op die werk wat by die skool gedoen word. Ons is baie dankbaar vir hierdie herhalende 100% slaagsysfer. Hierdie akademiese uitnemendheid word bewerkstellig deur opvoedkundige uitnemendheid reeds vanaf die kleuterskool toe te pas.

Gelowige onderwysers wat die grondslag lê, ouers wat erns maak met die opvoeding en ‘n skoolbestuur wat toesien dat uitnemende onderwys kan plaasvind, het daartoe bygedra dat die matrieks van 2024 uiteindelik, na 12 jaar ‘n besonderse matrieksertifikaat kon verwerf.

Hoe lyk die 2024-Dirk Postmagroep se akademiese uitslae?

  1. ‘n 100%-slaagsyfer (een van 7 skole in die distrik).
  2. Uit die 18 kandidate word 16 onderskeidings behaal.
  3. 100% B-graadtoelating.
  4. Deur die Departement van Onderwys aangewys as beste onafhanklike skool in die distrik.
  5. Voorts behaal GSDP die volgende SOS-toekenning: ’n toekenning vir ‘n uitsonderlik presterende skool in die kategorie kleiner Afrikaanse skole waar ons agtste onder die top 20 val.
  6. Beste presteer in Verbruikerswetenskappe in distrik, tweede in Gauteng.
  7. Lewenswetenskappe beste in distrik.
  8. Rekenaartoepssingstegnologie beste in distrik.
  9. Natuurwetenskappe beste in distrik.

So bietjie statistiek oor hierdie jaargroep

Die 18 leerlinge by Gereformeerde Skool Dirk Postma is deel van die 615 429 leerlinge wat die NSS geslaag het. 2024 se slaagsyfer lyk besonder goed, 87,3%.

Nasionaal was daar meer as 319 000 onderskeidings, 2024 se matrieks is ook die groep wat die hoogste persentasie toelatings tot baccaleurstudies in die geskiedenis behaal het.

Die beste presterende provinsie was Vrystaat, daarna KwaZulu Natal en dan in die derde plek Gauteng.

Al die onderskeidings en harde werk is egter nutteloos as ons alles wat ons doen nie doen asof vir die Here nie. Kinders se waarde is nooit gesetel in ‘n matrieksertifikaat nie, dit lê daarin dat hierdie kinders uitverkore kinders van God is wat begenadig is met ‘n gesonde verstand waarmee hulle Hom mag dien.

Geluk dus aan elkeen wat hard gewerk het. Nou volg daar ‘n opdrag naamlik om die vrug te vermeerder.  Welgevallige vrugte in die oë van die Here. Vrug waarmee ons Hom en ons naaste dien, waarmee die skepping ontgin en bewaar word en waarmee voluit geleef word.

Akademie is ‘n deel van hierdie vrug en ons is dankbaar dat dit mooi vertoon. In die oë van die wêreld is die akademiese vrug dalk die belangrikste, maar in die oë van die Here is die hartsvrug wat oorgaan in dade die belangrikste. 1 Sam 16:7b “Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”

Matrieks van 2024, nogmaals geluk met jul mooi prestasie! Mag hierdie akademiese vrugte deure oopsluit sodat julle toegerus mag word vir jul roeping om Hom met oorgawe daarmee te kan dien. Hierdie diens staan egter nie los van die hartsvrug wat jul vanaf Gereformeerde Skool Dirk Postma saamneem nie, hartsvrug waarmee julle diensbaar moet wees.

Redenaars 2025

Om te redeneer is in elke kind se bloed – sou ons dink.  Vra maar vir enige ouer, wat hulle al in ‘n argument rondom pizza of groente met enige minderjarige bevind het.  Of die wat moontlik koppe gestamp het oor die “lewensnoodsaaklikheid van ‘n selfoon vir ‘n tiener” of dan nie…

Maar, laat daardie selfde kind voor ‘n klastoespraakopdrag te staan kom, dan het alle redenasiegene soos mis voor die son verdwyn en dan, skielik, is pa en ma se argumente vir of teen iets, heeltemal aanvaarbaar.

By die redenaars word ons kinders gestimuleer om definitiewe standpunte in te neem. Hulle word geleer om ‘n gedagtegang rondom ‘n spesifieke argumente te ontwikkel, wat hulle dan in staat stel om hul mening, met selfvertroue voor ander te lug, te beredeneer en oor te dra.

Elke gelowige het die opdrag ontvang om uit te gaan en dissipels van alle nasies te maak.  Redenering is ‘n vaardigheid wat as onderbou dien om aan hierdie opdrag uitvoering te gee.

Jaarliks word een of meer werkswinkels aangebied, waartydens ouers en kinders touwys gemaak word rondom die skryf en aanbied van ‘n toespraak.  Hierdie jaar was ons so bevoorreg om tannie Erika Janse van Rensburg, ‘n ervare ATKV-beoordelaar, as leermeester te hê.

Die ATKV –redenaarskompetisie se temas word gebruik en dan kry ons leerders geleentheid om hul oorredingsvaardigheid te kom toets. Van ons personeel tree op as beoordelaars voor wie die toesprake by ‘n interne geleentheid voorgedra word.  Hierna word redenaars geïdentifiseer wat deurdring om aan die ATKV-streeksuitdunronde deel te neem.  Hierdie leerders word deur van ons onderwysers begelei en afgerond op pad na deelname aan die kompetisie.

Hierdie jaar was daar 23 inskrywings vir ons interne redenaars. Van ons gr.7-leerders het as voorsitters en tydhouers in die onderskeie lokale opgetree. Nege van hierdie redenaars het deurgedring na die volgende rondte. Slegs ses van hulle het wel besluit om in te skryf.

Ons hou vir hierdie ses styf duim vas. Hulle gaan dan vroeg in Meimaand ons skool by die Hoërskool Menlopark verteenwoordig.  Ons wens julle baie sterkte toe.

Dirkie-koor

Ons is vanjaar baie opgewonde oor ons Dirkie-koor.  Nadat juf Mariëtte Hordijk verhuis het, het die Here ons weer geseën met ‘n nuwe dirigent naamlik mev. Tineke van der Meer.  Sy doen opwindende aktiwiteite en leer heerlike nuwe liedjies aan. Mev. Lienette Boerrigter doen weer die begeleiding.  Die Dirkie-koor het gegroei na amper 30 maats, nog nuwe maats is ook welkom. Ons sien uit na die jaar met hope pret en heerlike musiek. Dit was ‘n voorreg om vanjaar by die Gereformeerde Kerk se sustersaamtrek op 8 Maart te kon optree en die susters se harte bly te maak.
 
Daar is nog optredes wat ons vir die jaar by ouetehuise, saam met ander kore, asook by kerklike funkies beplan. Dit is wonderlik dat ons skool bevoorreg is om ‘n koor te mag hê! Dit bied aan ons leerlinge die geleentheid om met blydskap te mag sing en ook musikale talente te mag ontgin en ontwikkel.