Wat beteken dit as ons sê GSDP is 'n IEB skool?
Die Independent Examinations Board (IEB) is ’n onafhanklike, deur Umalusi geakkrediteerde eksamenliggaam wat onafhanklike skole in Suid-Afrika bedien. Leerders wat IEB-skole bywoon, skryf aan die einde van Graad 12 die Nasionale Senior Sertifikaat (NSC), net soos leerders in openbare skole, maar die eksamens word deur die IEB opgestel en gemodereer.
IEB word internasionaal erken – IEB-matrieksertifikate word deur universiteite in Suid-Afrika en wêreldwyd aanvaar, onder andere in die VSA, VK, Europa, Kanada en Australië.
Wat is IEB?
Vinnige skakels
Wat is die verskil tussen IEB en NSS?
NSS (Nasionale Senior Sertifikaat)
Die NSS is die amptelike skoolkwalifikasie wat leerders in Suid-Afrika aan die einde van Graad 12 ontvang. Dit is die “matrieksertifikaat” wat deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO) uitgereik word.
IEB (Independent Examinations Board)
IEB is een van die eksamenliggame wat die NSS aanbied, maar op ‘n onafhanklike manier. In plaas van die staat wat die eksamen vraestelle opstel, stel IEB sy eie vraestelle op en modereer dit volgens hul eie, streng standaarde.
Waarom kies ons IEB?
As ’n Gereformeerde onafhanklike skool wil ons nie net uitnemende akademiese standaarde handhaaf nie, maar ook ’n eksamenliggaam hê wat ons ruimte gee om ons Bybelse lewens- en wêreldbeskouing te integreer met kwaliteit onderrig.
Enkele redes waarom ons oorgeskakel het na IEB:
Hoër akademiese standaard
IEB stel uitdagende assesserings wat kritiese denke, probleemoplossing en begrip eerder as memorisering beklemtoon. Ons vertrou ook die integriteit van die instelling wat die assesserings opstel sowel as merk. Dit berei leerders baie goed voor vir tersiêre studie.
Waarde van kritiese denke
In plaas daarvan om net regte antwoorde te leer, help die IEB-leerplan leerders om insig te ontwikkel, verantwoordelikheid te aanvaar en self te leer dink – ’n belangrike vaardigheid vir die lewe en studies ná skool.
Beter voorbereiding vir universiteit
Statistieke toon dat IEB-leerders oor die algemeen beter akademiese sukses aan universiteite behaal, veral in die eerste jaar, omdat hulle beter akademiese volhoubaarheid ontwikkel het.
Bybelse integrasie
Alhoewel IEB nie ’n Christelike instansie is nie, gee dit onafhanklike skole soos ons die vryheid om ons Gereformeerde identiteit en opvoedkundige filosofie in die leerinhoud te integreer.
Ondersteuning en opleiding vir onderwysers
IEB verskaf uitstekende opleiding, moderering en ondersteuning aan onderwysers, wat help om konsekwente kwaliteit te verseker.
Is IEB slegs vir matrieks of baat die hele skool daarby?
Hoewel die mees sigbare IEB-betrokkenheid dikwels by matriek lê, is IEB se invloed en ondersteuning beslis sinvol vanaf graad R tot graad 12. ‘n Skool wat IEB-volhoubaar implementeer, bou aan ’n sterk en konsekwente akademiese pad vir elke leerder, nie net in matriek nie. Inmenging vanaf die departement word ook beperk.
| Fase | Hoe IEB toegepas word |
|---|---|
| Graad R – 3 (Grondslagfase) | IEB bied raamwerke, assesseringsriglyne, en ondersteuning vir onderwysers. Die klem lê op begripsontwikkeling, lees, skryf en basiese wiskunde. |
| Graad 4 – 6 (Intermediêre Fase) | Skole gebruik IEB se gestandaardiseerde assesseringsriglyne, diagnostiese toetse en nasionale maatstaf-assesserings om die leerders se vordering te monitor. |
| Graad 7 – 9 (Senior Fase) | IEB ondersteun kurrikulumimplementering en standaardiseer assesserings. Skole kan gebruik maak van toetsinstrumente, praktykeksamens en nasionale moderering. |
| Graad 10 – 12 (VOO Fase) | IEB tree op as eksamenliggaam vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSC), met 'n sterk fokus op kritiese denke, probleemoplossing en akademiese integriteit. |
Koste-implikasies vir GSDP
Die koste-implikasie vir ’n gekombineerde skool (Gr R tot 12) om by IEB aan te sluit, kan wissel op grond van:
- Die aantal leerders per fase
- Die vlak van deelname (volwaardige assesseringsdeelname of net matriek)
- Ekstra dienste soos opleiding, toetsontwikkeling, en moderering
Fooie word vir die volgende gehef:
Jaarlikse registrasiefooie
Die skool betaal ’n vasgestelde jaarlikse skoolregistrasiefooi (veral vir eksamens en administrasie).
Die bedrag hang af van die grootte van die skool en aantal graad 12-leerders.
Vir ‘n skool soos GSDP beloop hierdie jaarlikse registrasie fooi tans (2026) ongeveer R10 000.
Matriekeksamenfooie (Graad 12)
Elke Graad 12-leerder betaal ‘n eksamenfooi, afsonderlik van skoolgelde. Dit sluit eksamens, nasien, moderering en sertifisering in. GSDP maak dit moontlik dat die IEB eksamenfooi deur middel van vier opsies vir ouers ingefaseer word. Sodra die leerder in graad 8 kom, ontvang ouers ‘n skrywe wat dit mooi uiteensit.
Indien leerders akkommodasie moet ontvang sal ‘n eenmalige fooi hiervoor gehef word. Die fooi beloop ongeveer R1500 vir akkommodasie-aansoek by IEB.
Assesseringstoegang vir ander grade
Die skool kan kies om Interne Assesseringondersteuning vir ander grade te gebruik (Graad R–11).
Hierdie dienste is opsioneel en word teen ‘n ekstra koste aangebied.
Tans maak ons nie hiervan gebruik nie, indien ons dit wel sal doen, sal ouers addisioneel hiervoor verantwoordelik wees.
Opleiding en ontwikkeling
IEB bied professionele ontwikkeling vir personeel, aanlyn of in persoon aan. Die skool kies self of hulle hierdie dienste gebruik. Opleidingsfooie wissel tussen R500 – R1 500 per onderwyser per werkswinkel. GSDP begroot jaarliks vir die opleidingsgeleenthede aangesien die leerders hierby baat.
Opsommend
Deurdat ons deel is van IEB kan ons meer beheer uitoefen oor akademiese gehalte. Alhoewel beide IEB en openbare skole na die NSS-matrieksertifikaat toe werk, lê die verskil in wie en hoe die assessering gedoen word. Dit skep ook ‘n ruimte waar geloof en leer saam kan groei. Dit help ons om die visie wat ons vir GSDP het uit te leef naamlik, om die leerders volkome toe te rus ooreenkomstig ons Bybelse opdrag.