Wat is ‘n wêreldbeskouing?
Hoe sien ons die lewe? Wat is dit wat ons rigting bepaal? Hoe maak ons sin / probeer ons die wêreld en lewe verklaar? ‘n Wêreldbeskouing is dit wat ons gebruik om sin te maak van die wêreld. ‘n Mens se wêreldbeskouing word bepaal uit dit wat hy dink, doen en sê; dit waarvoor hy lief is, en die manier hoe hy keuses maak. Basies kom dit op die volgende neer: wie is ons, waar kom ons vandaan en waarheen is ons op pad?
Wat rig / vorm ‘n mens se wêreldbeskouing?
Baie mense wil weet wat is die doel en sin van die lewe. Mense wil ‘n raamwerk hê van dinge waarin hul glo, wat hul oortuigings is en wat hul help om die groter prentjie van die lewe raak te sien. Daar is baie dinge wat bydra tot ‘n mens se wêreldbeskouing: jou familie, ervarings, ekonomiese agtergrond, onderwys (opvoeding), kultuur ens. Maar wat is die kern hiervan? Wêreldbeskouing is inherent godsdienstig. Alle mense, selfs ateïste wat die bestaan van God of ‘n goddelike wese ontken, hou vas aan iets, of het ‘n groter doel in die lewe. Elke persoon se lewe sentreer rondom iets.
Die Westerse kultuur het ‘n groot invloed op mense, ook in ons samelewing in Suid-Afrika. Die Westerse kultuur is baie individualisties, kapitalisties en materialisties. Dit is wat die wêreld najaag. ‘n Mens se lewe sentreer rondom iets, hetsy geloof, geld of die eie ek. Ons denke bepaal ons optrede. Negatiewe denke bevorder negatiewe optrede. Dit straal jou wêreldbeskouing uit.
Christelike lewens- en wêreldbeskouing
Elke mens dien God of ‘n afgod. As jy God dien, gaan jou lewe rondom God en sy wil sentreer. Dieselfde geld vir ‘n afgod. Om ‘n Christelike wêreldbeskouing te hê en te handhaaf moet jy jouself verloën, jou kruis opneem en Christus volg. Jy kan nie individualisties, materialisties of kapitalisties leef as jy Christus volg nie. Hoe kan ons Christus-gesentreerd lewe in ‘n wêreld wat al hoe meer gesekulariseerd raak? Om ‘n Christelike lewensbeskouing te hê, beteken om God in die kern van jou lewe te plaas, en te lewe volgens Sy wil, ongeag wat die wêreld van jou verwag.
Hoe leer ons ons kinders ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing?
Die kerk, ouers en die skool het die verantwoordelikheid om ‘n kind ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing te leer. As ouers moet ons ons doopbelofte nakom (om ons kinders in die leer van die Ou en Nuwe Testament te onderrig en te laat onderrig). Die gemeente is getuie hiervan. Daarom is dit nie net een van die drie partye se verantwoordelikheid om kinders te onderrig nie. Ouers onderrig, kerk onderrig en die skool moet onderrig. Dit moet ons doen in afhanklikheid van die Here. Uitleef van geloof moet ‘n lewenswyse by ons kinders word, en nie ‘n stel reëls van moets en moenies wat nagevolg moet word nie. As ons dit nie regkry nie, gaan ons kinders nie ‘n Christelike lewensbeskouing ontwikkel nie.
Baie ouers en onderwysers het nie ‘n groter prentjie of doelwit wanneer ons kinders opvoed of vorm nie. Ons kyk na die hier en die nou. Ons tree baie keer op net uit reaksie i.p.v. om ‘n kind se hart aan te spreek en te vorm. Baie gedragsprobleme by kinders is eintlik hart-probleme. Ons stel reëls aan ons kinders om te gehoorsaam, sonder om hul harte aan te raak sodat hul optrede ‘n leefwyse word wat ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing uitdra.
Ouerskap (en onderwys) moet geskied deur die outoriteit van God. Ons doel by kinderopvoeding moet wees om by hul die behoefte te skep om aan God gehoorsaam te wil wees – nie om iets te verdien nie, maar om ontsag en eerbied vir God te hê. As ontsag en eerbied vir God ‘n kind se lewe bepaal, dan sal hul staande kan bly in ‘n veranderde wêreld. Dan sal hul optrede getuig van ‘n Christelike lewensbeskouing. Ons moet dus nie reaktief optree wanneer ons kinders leer en dissiplineer nie. Ons fokus moet wees om hul harte aan te spreek. Net God kan harte verander, maar in ons opvoeding moet ons daarna streef, in afhanklikheid van God.
Die wêreld verander teen ‘n geweldige tempo. Globalisering veroorsaak dat mense al meer blootgestel word aan wêreldse sieninge. As die ouers, kerk en skool bewustelik of onbewustelik die wêreldse kultuur as die waarheid of norm aanvaar en probeer inpas in die wêreld, gaan kinders dit ook doen. Dan gaan dit gebeur dat die evangelie tweede plek inneem in ons lewens. Die gevolg is dat ons kompromieë gaan maak en afvallig gaan raak in die geloof. Dan gaan ons geloof meet aan ‘n wêreldse lewensbeskouing in plaas van dat geloof ons wêreldbeskouing gaan bepaal. Ons kinders gaan dan al hoe meer wil konformeer met die wêreld in hul optrede, kleredrag, musiek wat hul luister ens., in plaas van om dit te meet en te beoordeel aan die hand van die Skrif. Die uiteinde gaan wees dat hul geloof gaan meet aan die standaarde van die wêreld, in plaas van om die wêreld te meet aan ons geloof.
Samevatting
Ons moet ons kinders opvoed in afhanklikheid van die HERE. Ons moet hul opvoed met die beginsels van die Skrif, sodat ons kinders se ingesteldheid sal wees om God te verheerlik. Om ‘n wêreldbeskouing te hê uit hul Christelike geloof, en nie ‘n wêreldbeskouing waar hul alles wat die wêreld najaag, as norm vir die lewe aanvaar nie.
Bibliografie
James, R et al. (2008) A theology for Christian Education. Nashville: B & H Publishing Group.
Ryken, P.G. (2013). Christian Worldview: A Student’s Gide. Wheaton: Crossway
Trip, P.D. (2015). AWE: Why it matters for everything we think, say & do. Wheaton: Crossway.

Mev Lynni Enslin is die departementshoof graad 8 en 9 by die hoërskool.